Pitkos 44
4de Gebod
Wat is die 4de gebod?
📷Die 4de gebod vorm vir my die brug tussen die 1ste - 3de en die 5de - 10de Gebod. Die gebod fokus nie net op God en mens, asook God, mens en medemens nie, maar ook op die mens en homself.
Wat is die betekenis van die gebod? Die Sabbat het twee oorhoofse funksies wat dit kom bewerkstellig: dit plaas die mens in ’n omgewing van rus en aanbidding.
Ongetwyfeld het die eerste mensepaar in die Paradys die Sabbat onderhoud. Nie omdat hulle dit as ’n gebod gehad het nie, maar omdat hulle na die beeld en gelykenis van God geskape was. Omdat God op die sesde dag sy werk voltooi het en op die sewende dag van al sy werke gerus het, het God die sewende dag geseën en geheilig. Aangesien daar in die lewe van God hierdie ritme was dat Hy ses dae gewerk en die sewende dag gerus het, sou hierdie kringloop ook in sy beelddraers uitdrukking gevind het.
Nou wonder ons: Hoekom het God die Sabbat deel van sy wet gemaak? Om vier redes. Hierdie vier redes ondersteun dan ook die twee oorhoofse funksies van die Sabbat, rus en aanbidding.Dit herstel die lewensritme van werk/rus en aanbidding wat daagliks versteur word;Dit dien as ’n herinneringsteken dat ons God se kinders is;Dit beeld die andersheid van God uit;Dit bewerkstellig vertroue.
Die Heidelbergse Kategismus
103 Vraag: Wat gebied God in die vierde gebod?
Antwoord: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige Sabbat reeds in hierdie lewe (g).
(a) Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23.
’n Dag van heilige samekoms
Wat beveel God in die vierde gebod volgens Hebreërs 10:23-25? Die Sabbatdag is die dag van die Here ons God. Dit is ook die dag wat afgesonder moet word as ’n dag van heilige samekoms. Op hierdie dag is spesiale brandoffers gebring (Num. 28:9, 10) en is die Here geloof in die vergadering van die volk (Ps. 68:27), want dit was een van die belangrikste redes vir die instelling van die Sabbat.
Dr. Willie Marais sê dat die sabbatdag meer as net ’n rusdag is, die rus van alle beroepsarbeid; dit is ’n feesdag tot eer van God en tot die heil van die gemeente. Op dié dag ontmoet God en die volk mekaar. En waar God ontmoet word, moet die volk ook mekaar, kom die gemeente byeen.
Ek haal graag verder aan: “Net soos die tabernakel en later die tempel ’n gewaarborgde plek van samekoms vir Israel was, so sou die sabbatdag ’n gewaarborgde tyd van samekoms vir die volk wees. Die het dan onder leiding van die profete (vlg. 2 Kon 4: 23) of onder leiding van die priesters saamgekom (Lev. 1: 1-17 – Luk. 1: 5-23) om meer onderrig te ontvang, soos Esra dit vir baie dae aaneen gedoen het (Neh. 8: 1-19).”
Dr. Marais wil dit meemaak dat die Sabbat nie net gaan oor die rus van die mens nie, maar meer oor die heiligmaking van die een wat rus. Om te rus en die dag te heilig beteken om reeds uitgerus te wees en daarom besig te wees met die dinge van die Here (Jes. 58: 13, 14). Daarom mag ons nooit die onderlinge byeenkoms versuim soos sommige gewoonte het nie (Heb. 10:25)
Christus, die vervulling van die Sabbat
Die boek van dr. Marais getiteld “die 10 woorde van God” het werklik ’n groot inpak in my eie verstaan van die 10 gebooie. Dit was veral onder die verstaan van Christus vervulling van die Sabbat waar ek waardering gevind het vir sy werk. Christus het ’n baie pertinente rol kom vervul oor ons verstaan van die 4de gebod. Dit was onder andere Christus wat ons kom leer het dat die mens nie gemaak is vir die Sabbat nie, maar dat die Sabbat vir die mens gemaak is (Mark. 2:27). Wanneer ons deur die lewe van beweeg merk ons op dat alhoewel Jesus die fariseërs en skrifgeleerdes en hulle verkeerde Sabbatsgebruike uitgewys het, het Hy self die Sabbat onderhou.
Hiermee in gedagte my volgende opmerking: aangesien Christus die wet van Sabbat kom vervul het, kan ons met ’n oortuigde hart bely dat dit Christus is wat die 2 oorhoofse funksies van die 4de gebod kom bewerkstellig. Daar is slegs in en deur Christus volkome rus en aanbidding. Dit is slegs deur Christus wat die mens geheilig word. Dit is slegs deur Christus dat die mens herinner word aan die verlossingswerk en andersheid van God.
Mag ek en jy opnuut die liefde en gehoorsaamheid van die 4de gebod ontdek. Groete Ds. Ryno Hurn
Commenti