top of page

Pitkos vir die week - 12 Mei 2020

Pitkos 14 Vertroue Inleiding: Daar was in verlede week se Pitkos geskrywe dat ons, net soos oor die dood, ANDERS dink oor klag as die res van die samelewing – Ons kla met HOOP, VERTROUE en GELOOF. Ons gesels hierdie week oor die tema van vertroue. Vertroue is ’n belangrike as waar rondom die lewe draai! Buiten dat ons selfvertroue moet hê – iets wat in op sigself vir báie reeds moeilik is – moet ons vertroue in die samelewing asook in God hê. Ons kan ook die vraag stel: Op wie vertrou God? Die diagram hieronder beeld verskillende vertrouens-verhoudings uit. Elke sirkel kan afsonderlik en gemeenskaplik gesien word. Die vraag word gerig: Wat is te vinde waar die sirkels mekaar ontmoet? Daar gaan kortweg gekyk word na wat selfvertroue is asook hoe vertroue binne-in die samelewing lyk en funksioneer. Selfvertroue Selfvertroue, die woord wat vir baie die hare op hul nek laat regop staan. Selfvertroue dui op ’n mens se dunk van homself. Selfvertroue is nie dieselfde begrip as selfbeeld nie. Selfbeeld is ’n evaluering van ’n mens se eie waarde, terwyl selfvertroue meer spesifiek vertroue in die mens se vermoë is om ’n doel te bereik. Abraham Maslow (’n Amerikaanse sielkundige) en baie ander na hom, het die behoefte beklemtoon om te onderskei tussen selfvertroue as ’n algemene persoonlikheidseienskap en selfvertroue met betrekking tot ’n spesifieke taak, vermoë of uitdaging. Sielkundiges het bevind dat ’n persoon selfvertroue kan hê om ’n spesifieke taak te voltooi (om ’n goeie maaltyd te kook), maar ’n gebrek aan algemene selfvertroue kan hê. Volgens sielkundiges word ons selfvertroue sterk beïnvloed deur die samelewing en ons wisselwerking met elke verskillende aspek soos tegnologie, gesondheid en orde. As teoloog glo ek moet God ’n groter inspraak tot ons selfvertroue hê as dié van die samelewing. Hoekom? Want die mens is na die beeld van God geskape en nie na die beeld van die samelewing nie. Genesis 2:7 “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het. Genesis 1:26 – 27 “Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip. God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Vertroue in die samelewing: Sonder onderlinge vertroue kan ons nie lewe nie – ek vertrou die kos wat ek eet is nie vergiftig nie, anders sal ek nooit eet nie (maar dit kan gebeur); ek vertrou die kar wat aankom gaan by die rooilig stop, anders kan ek nie ry nie (maar soms gebeur dit wel). As mense my nie vertrou nie, sal ek nooit ’n werk kan kry nie, en geen vriende kan hê nie. My vlak van selfvertroue kan wissel in die verskillende omgewings waarbinne ek myself bevind, soos tuis of by die werk asook met betrekking tot verskillende tipes verhoudings en situasies. Die sielkundige, Leon Festinger het bevind dat ’n persoon se vlak van selfvertroue net kan verhoog of verminder waar daardie individu homself kan vergelyk met ander persone wat min of meer op dieselfde vlak is in ’n mededingende omgewing. Die samelewing is ook in ’n afsonderlike vertrouensverhouding met God, waar ek as individu nie ’n invloed het nie bv. die natuur wat afhanklik van reën en seisoene is. Daar is rampspoedige nagevolge vir die samelewing wanneer dit meer op homself en die individue vertrou as op God! Kyk net na van die verhale in die Bybel soos die “Toring van Babel” en die rede vir die “Groot vloed”. In ons eie tyd kan ons kyk na gebeure soos oorloë, armoede, ongeregtighede en dalk met gewaagdheid – COVID19! Wat sê die Bybel kortliks oor vertroue in die samelewing? Aan die een kant waarsku die Bybel ons dat ons nie te veel op ander moet vertrou nie, weens al die gebrekke wat ons het, maar aan die ander kant moedig die Bybel ons ook aan om die samelewing deur God te vertrou. Merk net op deur watter “middel” ons die samelewing moet en nie moet vertrou nie! Nie deur middel van jouself nie, maar deur God! Psalm 62:13: “Ek het by God hoor sê: dat net God mag het en ’n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste. Spreuke 28:26 “Wie op homself vertrou, is ’n dwaas. Wie hom deur wysheid laat lei, is veilig. Miga 7:5 “Moenie ’n maat vertrou nie, moenie op ’n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê. Maar deur die Here kan ons vertroue hê in mense: 2 Tess 3:3-4 “Die Here is getrou. Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar. Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou. Eksodus 19:9 “Toe het die Here vir Moses gesê: Ek sal na jou toe kom in ’n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanner Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê. Ons vertroue is eintlik op die Here wat in ons kom woon het met sy Heilige Gees om ons te lei en te bewaar. Ons lewe is in sy hand, ook wanneer ons eet of op pad is of tussen mense lewe en werk. Hy lei ons ook in die vertroue wat ons in mense kan stel. 2 Kronieke 16:9 lei ons hooffokus vir die week se Pitkos in: “Die Here het sy oë oral op die aarde, sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Ons vertroue in God: In myself vertrou ek tot ’n mate, die samelewing glad nie, maar in God? Ps 84:13 “Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou. Ps 112:7 “die regverdige…is gerus, hy vertrou op die Here. Ps 115:11 “Julle wat die Here dien, vertrou op die Here, Hy help en beskerm julle. Spreuke 3:5 “Vertrou volkome op die Here, en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop. Spreuke 16:20 “wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed; een wat op die Here vertrou is voorspoedig. Jesaja 28:16 “Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U. Wie vertrou God? Al ooit gewonder: Op wie vertrou God? Is dit vir God nodig om enigsins iets of iemand anders buiten Homself te vertrou? Job 4:18 “Elifas sê vir Job: In sy hemelse dienaars stel Hy geen vertroue nie. Voor Hom is selfs sy engele vol gebreke Job 15:15 “Elifas sê vir Job: As God nie eers die hemelwesens vertrou nie en selfs die hemel nie rein is voor sy oë nie, hoeveel minder ’n onrein verdorwe mens wat boosheid indrink soos water? Die hele bestaansdoel van die skepping draai rondom hierdie vraag: indien God nie die skepping en die skepsels vertrou met hulself en mekaar nie, wat is die doel van die skepping? Daar moet tog sekerlik ’n vertroue vanaf God se kant tot die skepping en ons as Sy beelddraers wees? Beslis! Maar die vertroue wat God in ons het, is anders as die vertroue wat ons in onsself, ander en Hom het. God se vertroue is nie ’n afhanklike vertroue nie. God se bestaan is nie afhanklik van ons vertroue nie en nog meer, Hy word nie daardeur geïdentifiseer of bepaal nie, maar ons word. Waarnatoe vertrou God die mens? Wat is te vinde waar die sirkels mekaar ontmoet? Wanneer die drie sirkels mekaar ontmoet word die term en beskrywing van vertroue anders gedefinieer en verstaan. Vertroue is ewe skielik harmonies en heilig van waaruit geloof spruit. Die middelpunt van al die verskeie vertroues (tot en vir), word saamgebind in die Seun. VERTROUE: Die woord πίστις (pistis) word in die Nuwe Testament gebruik om die vertroue (believing or trusting) in of op die verlossing van Jesus Christus aan te dui (Gal. 2:20; 3:6). Hierdie geloofsvertroue is iets wat die Gees in ons wek (2 Kor. 4:13), en terselfdertyd ook die middel waardeur ons die Gees ontvang (Gal. 3:14). πίστις is dus ’n beskrywing van reddende geloof (Rom. 1:8; Ef. 2:8). Dit is ook hoe die werkwoord πιστεύω (pisteuō) gebruik word om die aksie van geloof en vertroue uit te druk (Luk. 1:20; Matt. 18:6; Hand. 4:32; Rom. 1:16-17; 3:2; 4:3; 1 Kor. 11:18; Jak. 2:19; 1 Pet. 2:6). Die werkwoord πιστόομαι (pistoomai) wat in die sin van “om te begin glo” of “tot geloof kom” gebruik word, kan ook hierby ingereken word (2 Tim. 3:14). Dit is dan ook die wyse waarop die Hebreërse skrywer oor geloof skrywe: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebr. 11:1). TOEWYDING: Die woord πίστις word ook gebruik om die toewyding (commitment) aan die verlossing van Jesus Christus aan te dui wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6). πίστις is dus ’n beskrywing van jou belofte van en lojaliteit aan die Here Jesus Christus (1 Tim. 5:12). GETROUHEID: Die woord πίστις word verder ook gebruik om die getrouheid (faithfulness) aan die verlossing van Jesus Christus aan te dui wat die Gees in ons binnekant bewerk as deel van die etiese vrug van die Gees (Gal. 5:22). Dit is immers ook ’n eienskap van God dat Hy πίστις is in dié sin, d.w.s. betroubaar en getrou (Rom. 3:3; 1 Kor. 1:9; 10:13; 2 Kor. 1:18; 1 Tess 5:24; 2 Tess. 3:3). GELOOFSLEER: Die woord πίστις dui ook die geloofsleer of Christelike dogma aan (Gal. 1:23), d.w.s. die inhoud van die geloof (vgl. 1 Kor. 15:14). BETROUBAAR: Die woord πίστις word as ’n beskrywing gebruik van die geloof wat betroubaar of seker is (Hand. 17:31). Daar is verder die verwante selfstandige naamwoord πιστός (pistos) wat ook in die sin van betroubaarheid of sekerheid gebruik word (Hand. 13:34). In dieselfde sin kan die selfstandige naamwoord πιστικός (pistikos) in die sin van suiwerheid gebruik word (parfuum in Joh. 12:3), maar dit word net volledigheidshalwe genoem. Hoe lyk jou vertroue? Seën vir julle Ds. Ryno Hurn

6 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page