top of page

Pitkos vir die week – 12 Februarie 2020

Pitkos 2

Gebed

📷Inleiding

Gebed is ’n belangrike gedeelte van ’n gelowige se lewe. Ons sien en ervaar dit in ons eie lewens, maar ons sien dit ook in die lewe van Jesus. Ons lees in die Evangelies dat Jesus gereeld gebid het en dat die gebede wat Jesus gebid het ook verskeie soorte gebede was. Ek verwys nou spesifiek na die gebed voordat Jesus die brood en die vissies vermeerder het, ons lees in Markus waar Jesus vroeg môre alleen gaan bid het, die tyd wat Jesus in die tuin was voordat Hy gevange geneem was, waar Hy God gesoebat het om die lydensbeker weg te neem van Hom. So, dit is duidelik dat Jesus geweet het dat gebed belangrik is en nie net het Hy geweet dat gebed belangrik is nie, Jesus het geweet wat die hart van gebed is.

Wat is die hart van gebed? Meeste sal dalk so een of twee antwoorde kan gee oor hoekom gebed belangrik is. Gebed is belangrik omdat ek met God kan praat. Gebed is belangrik want ek het die geleentheid om God te vra om my te help en ja wanneer ek onthou om dankie te sê. Maar is dit al wat gebed is? Ek sê nie dit is verkeerd nie, om met God te praat is belangrik, om vir God dankie te sê is belangrik, maar daar is meer omtrent gebed as net dit.

Die Onse Vader gebed in 6 vorm die basis van gebed. Dit is egter belangrik om te weet waar Jesus tans in Sy bediening was toe Hy die dissipels meer geleer het oor gebed. Jesus is hier besig met sy bergprediking, so Hy praat nie hier net met die dissipels nie, maar ook met algemene Jan Rap en sy maat m.a.w. die Jode en volgelinge van Jesus. Daar was ’n stel reëls in die samelewing waarvolgens die Jode gelewe. Van die reëls wat daar was, was om die Sabbat te onderhou, die gebooie te onderhou en dan natuurlik in gebed. Jode het buiten die vaste tye wat die Jode moes gebid het, het die Jode ook geglo dat jy lank moet bid en groot woorde moet gebruik om die mense rondom jou te beïndruk, asook vir God. Daar was geglo dat wanneer jy vir God beïndruk het, was die kanse net soveel groter dat God jou gebed sal verhoor. Daarom, dit wat Jesus die mense die volgende geleer het oor gebed was nie net anders as wat hulle gewoond was nie, maar dit was soos die Engelsman sê: “ground breaking” gewees. Dit is ook my gebed, dat ons ’n nuwe verstaan van gebed sal verkry.

Die Onse Vader gebed

Mat 6:5 Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

Die woord “as” is ’n baie swak vertaling van die Grieks. Wanneer ons die Grieks lees, lees ons nie “as julle bid” nie, maar eerder, “wanneer julle bid”. M.a.w. Jesus sê hier vir sy dissipels dat gebed belangrik is en dat God van ons verwag om te bid. Omdat die Jode vaste gebedstye gehad het, was dit nie so ongewoon om mense op die straat te sien bid nie. Die probleem is dat sommige dit doelbewus gedoen het sodat hulle gesien kon word in die publiek se oog en behalwe dat hulle dit doelbewus gedoen het, was dit ook in baie gevalle die enigste keer wat hulle gebid het. Deur so te bid verskuif hulle die aandag weg van God en op hulle. Hulle is dan nie meer besig met gebed nie, maar ’n self verheerlikte handeling.

Gebed is ’n eerlike en oop gesprek met God en daarom is dit nodig dat ek in privaat moet bid, maar publieke gebed is nie verkeerd nie, maar dan moet dit gedoen word met die regte hart. Ons sien dan in Matteus 14 dat Jesus self ook in die openbaar gebid het. Kom ons vat ’n voorbeeld uit ons konteks uit. as ’n paar van ons bymekaar gaan kom om te bid vir reën. As ons bid en ons word gely deur die Gees van God en al die aandag is op God dan is dit nie verkeerd nie, want gebed het ook ’n manier om ’n gemeenskap van gelowiges te versterk, maar as ons dit doen om net gesien te word, of as jy dit doen en dit is die enigste keer wat jy bid, dan is dit niks anders as Godlasterend nie.

Jesus rig ’n waarskuwing uit en sê vir ons dat wanneer julle in die publiek gaan bid en dit die enigste keer is wat julle bid, dan het julle kla jul beloning ontvang. Wat is die beloning? Publieke erkenning, maar dit is nie al nie. Ek kom nou by die ander gedeelte van ons beloning.

Mat 6:6 Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

Kom ons kom nou terug na ons beloning toe. Wat is my beloning as ek in die geheim bid? As ek in die publiek bid is my beloning publieke herkenning, maar kan dit dalk wees dat wanneer ek in die geheim bid, dat my beloning Goddelike erkenning is. M.a.w. wanneer ek bid en wanneer ek bid tot God, waar niemand my kan sien of hoor nie, is God die een wat my gebed hoor. Waar God my erken as sy kind... “My kind, Ek sien jou en Ek hoor jou gebed... Ek sal vir jou sorg. Wees gerus, My kind, jou gebed gaan nie ongehoor nie... al is Ek nie fisies by jou nie, weet dat Ek in My Gees by jou is.” Gebed in die privaat is ’n gerusstelling dat God teenwoordig is en dat my gebede nie ongehoord gaan nie. Gebed is nie net woorde, nee, gebed is die hart van my verhouding wat ek met God het. As ek ’n vals gebed het, dan beteken dit my verhouding met God is vals, maar wanneer ek ’n eerlike en opregte gebed het, dan beteken dit my verhouding is eerlik en opreg. Want wanneer ek bid staan ek openlik en kaal voor die Here. Daarom help dit nie om te probeer om iets weg te steek vir God nie, want God weet alles en Hy sien ook alles. Gebed is daardie oomblik wat dit binne-in jou krap en jy praat met God. Gebed is daardie oomblik waar jy wil vloek, skree, glimlag of weghardloop en jy praat met God. Gebed is die diepste wese van jou siel.

Dit was nuut vir die Jode gewees. Die Jode was gebonde aan vaste woorde en rympies en hulle het nie gebed beskou as die hart van verhouding met God nie. Dalk is dit vir ons iets nuuts, dat gebed die hart van ons verhouding met God is. Ons lees in vers 7 dat God nie aangeraak word deur ons groot woorde en lang gebede nie, maar deur ons nederigheid voor God.

Het julle al deur ’n hospitaal gestap of selfs langs ’n siekbed gesit en gebid tot God vir genesing? Ek glo dat jy vind die mees opregste en nederigste gebede in ’n hospitaal, waar jy God soebat en smeek om hierdie persoon te genees, of om sy pyn tot ’n einde te bring. Rob Bell ’n Amerikaanse prediker sê dat hy het eenkeer hospitaal besoek afgelê en hy het spesifiek vir hierdie een kind gebid dat God hom moet genees en later het hy uitgevind dat baie ander mense het ook vir die kind gebid, maar op die ou end het die kind gesterf. Op ’n ander keer het hy weer vir ’n ander kind gebid en die kind was genees. Toe wonder hy: hoor God net sommige van sy gebede? Baie keer wonder ons ook dieselfde: hoor God net sommige van my gebede? Hoekom sê God vir die een gebed ja en vir die ander een nee.

Kom ons stop gou vir ’n oomblik:

Ons glo dat God alwetend is, korrek? Ons glo ook dat God elke gedagte van ons ken voordat dit al by ons opkom, korrek? Dit Beteken dan ook dat God weet wat ek gaan bid voordat ek bid en beteken dit ook God weet wat Hy gaan antwoord voordat ek al begin bid het... nou die vraag wat ek vra is: hoekom moet ek bid? Wat is die doel van gebed as God reeds voor die tyd weet wat ek gaan bid en wat Sy antwoord gaan wees?

Hoeveel van ons het dit al gevoel of ’n gebed soos ’n stoeigeveg met God is? Dat wanneer ek lank genoeg en hard genoeg bid en al hierdie groot woorde gebruik dat ek God op die grond gaan neerdruk en God gaan ingee en sê: “okay, okay... Ek sal vir jou gee waarvoor jy vra.” Nee, die doel van gebed is nie om God te oortuig nie, maar om eerlik en nederig voor God te kom. Gebed is om my hart met God se hart te sinkroniseer.

Gebed gaan daaroor dat my wil ooreen moet kom met God se wil. Daarom antwoord God nie altyd ons gebede nie, want vanuit watter hoek bid ons. Bid ons uit die hoek van selfsug of bid ons uit die hoek van God se wil? Baie keer bid ons nie uit die hoek selfsug nie, soos in die geval van ’n sterfbed, maar dan antwoord God steeds nie of God se nee. Wat ek volgende sê is harde woorde... is dit die wil van God dat die persoon gesond moet word? Want onthou God se wil moet nog steeds geskied. Daarom kan ek nie bid sonder geloof nie. Wanneer ek bid moet ek glo dat God in beheer is en dat God van beter weet. Soms sê God nee en baie keer is dit sleg, soos in die geval van ’n sterfbed, maar daarom is geloof belangrik. Dat maak nie saak wat gebeur, maak nie saak wat God antwoord nie, ek sal steeds bly glo dat God vir my is en nie teen my is nie. Die gebrokenheid in die wêreld maak soms dat ons twyfel in God in jou en nie met ons hele hart glo en vertrou nie.

Dit is duidelik dat gebed ’n geleentheid is om twee dinge te doen. Om ons onderdanigheid aan God uit te druk m.a.w. om te sê dat ek in die wil van God sal lewe en dan tweedens die voorsienigheid van God m.a.w. om te sê ek glo dat God vir my sal sorg. Dit is presies wat ons hier in die Onse Vader gebed kry.

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word... Onmiddellik deur so te bid, sê ons vir God dat die gebed nie oor onsself gaan nie, maar dat dit oor U gaan... die woord hemel in die gebed dui nie vir ons aan dat God vêr is nie, nee dit dui vir ons God se Almag aan. Die wonderlike ding van gebed is: die Jode is tot vandag toe verbied om in die Allerhoogste plek van die sinagoge in te gaan, maar gebed laat ons toe om tot by die Allerhoogste te gaan en dit is alles danksy die kruis.

Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel... Hierdie is die gedeelte wat gaan oor dat ons onderdanig is aan God. “Vader, die lewe en spesifiek hierdie gebed gaan oor U koninkryk en nie myne op aarde nie. Here, laat U wil geskied op aarde m.a.w. in my koninkryk soos in die hemel m.a.w. U Koninkryk... Vader, ek bestee baie tyd, aandag en soms geld by my koninkryk, maar weet dat ek oorgee aan U. Laat U wil geskied in my koninkryk... my troue... my kinders... my finansies... my werk...my huis.... Die is een van die moeilikste gedeeltes van ’n gebed. Om volkome oor te gee aan God..... om vir God te sê dat “ek vertrou U”

Gee ons vandag ons daaglikse brood en vergeef ons, ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Hierdie gedeelte handel oor die voorsienigheid van God. Die woord “brood” verteenwoordig basies alles wat ons nodig het om ’n volhoubare lewe te lei. “Vader, ek vertrou U dat U in my behoeftes sal voorsien. Ek vertrou U dat U vir my sal sorg.” Buiten dat ons vir God vra om fisies vir ons te voorsien moet ons ook vir God vra om vir ons genade te voorsien deur vergifnis. “Vader, voorsien nie net in my basiese behoeftes nie, maar voorsien ook vir my redding en verlossing van hierdie wêreld.”

Baie keer bid ons tot God vir ons daaglikse brood en dan gebeur gewoonlik een van die volgende drie dinge:

1. God voorsien vir my en ek is dankbaar

2. God voorsien vir my, maar ek sien nie die brode raak wat God vir my gee nie

3. God voorsien vir my die brood, maar ek is ontevrede oor wat God vir my gee, of wat in baie gevalle gebeur: ek raak nie versadig aan die brood nie... ek soek nog, maar die keer soek ek nie net ’n gewone tuisgebakte witbrood nie, maar die keer soek ek ’n SASKO Sam brood en sommer met so bietjie jam op.

Gebed is nie net daar vir my gerusstelling of om my lysie af te merk nie. Gebed is nie net daar vir my om met God te praat nie of om vir God vra om vir my te sorg nie, maar gebed is die geleentheid om my volle lewe, gelykstaande aan God te kry. Sê dit nie vir ons ’n wonderlike ding van God nie? God het gesien dat ons nie sonder Hom kan lewe nie en dat ons totaal en al verlore is, daarom stuur Hy ook vir Jesus, nie net om vir ons te sterf nie, maar ook met die opdrag om ons te leer oor gebed wat ons op die ou einde help om in die wil van God te lewe.

He who kneels before God in prayer, can stand before any man”

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

109 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comments


bottom of page