top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 11 September 2019

Pitkos 37

Afgodery📷2013 Was ’n baie goeie jaar vir die Vodacom Vrystaat-Cheetahs se Superrugby span. Dit was die jaar waar hulle in die kwarteindstryd teen die Brumbies ten staande gekom het. Dit was ’n unieke oomblik vir al die ondersteuners (waarvan ek deel is). Daar was egter net een probleem: die wedstryd skop op ’n Sondagoggend af, ter selfde tyd wanneer die dominee die Skriflesing aankondig vir sy erediens.

Daar was ’n worsteling onder die getroue Cheetah ondersteunende kerkgangers: rugby of kerk? Dit was ook ’n worsteling waarmee ek gesit het. Tot my skaamte toe het ek nie daardie oggend in ’n erediens gesit nie, maar eerder na dominee SuperSport geluister.

Ek het vir maande lank met ’n wroeging binne my rondgeloop: het ek rugby verafgod? Wat dink julle? Hierdie week se Pitkos is die platform waar ons ondersoek gaan instel rakende afgode en die aanbidding daarvan.

Wat is afgodery?

Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord definieer afgodery as volg: Vraag: Wat is afgodery? Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.

’n Meer moderne definiëring lui soos volg: afgodery is om enige iets of iemand hoër, gelykstaande, in plaas van of eerder te kies as vir God. Is dié definiëring ’n akkurate beskrywing van wat afgodery werklik is? Beslis ja!

Hoe lyk afgodery in vandag se samelewing?

Met die bostaande beskrywing van wat afgodery is, moet ons ’n stappie verder gaan en ook vir mekaar vra: hoe lyk afgodery en is ek daaraan skuldig? Daar is verskeie voorbeelde waaraan ek kan dink wat gekwalifiseer kan word as afgodery: geld, aardse besettings, jou liggaam of dalk die van iemand anders, jou beroep en natuurlik afgodsbeeldjies voor wie jy letterlik buig. Alhoewel ek nie gedurende 2013, letterlik op my knieë geval het en dominee SuperSport aanbid het nie, glo ek tog dat daar ’n mate van afgodaanbidding was. Ons leef in ’n baie moeilike morele en etiese samelewing waar dinge nie altyd wit of swart is nie. Hiermee ingedagte net die volgende: indien ons bely dat afgodery is - om enige iets of iemand hoër, gelykstaande, in plaas van of eerder te kies as vir God, om jou vertroue weg van God te neem en in iemand of iets anders se hande te sit, is die volgende afgod aanbidding? Werk op ’n Sondag i.p.v. om kerk toe te gaan (anders gaan ek nie my huur kan betaal nie. Ek plaas my vertroue op my werk en die ekstra inkomste wat ek op ’n Sondag verdien, eerder as op God. Baie van u kan redeneer: dit is God wat die werk vir haar gegee het. Dit is waar ja, maar sal God vir ons iets gee, wat Sy plek inneem?); te slaap eerder as om tyd met die Here te spandeer; televisie te kyk eerder as om jou dissipelskap verpligtinge na te kom; die uitneem van polisse en versekeringe?

Self-aanbidding is vandag die afgodery van ons tyd. Selfies, self-beheptheid, selfgerigtheid, en selfhelp godsdiens. Self-help is die benaming van die kategorieë boeke, DVD’s, en hulpmiddele vir die mens, deesdae in boekwinkels. “Die Here help die mens wat homself help” is die leuse van die hedendaagse kultuur.

Hoekom wil God my weerhou van afgod aanbidding?

Die eerste twee gebooie stel dit baie duidelik dat God alleenlik aanbid moet/wil word. Hoekom? Wat is die verskil tussen God en die afgode? Eerstens - Romeine 1: 23 “In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mense of soos voëls of diere of slange.” Vanuit Romeine 1:23 lei ons af dat God die enigste onverganklike, lewende, vrygewende, selfopofferende, Skeppende God is en enige iets of iemand ander wat aanbid word dood en verganklik is.

Tweedens - Ons word die beeld van dit wat ons aanbid – of ons Skepper of iets anders. Ons sien dit baie mooi in Psalm 115. Ons lees hier van mense wat doelbewus afgode van silwer en goud, die werk van mensehande, maak om te aanbid. Die psalmdigter sê die afgode het ’n mond, oë, ore, hande, voete en ‘n keel, maar hierdie organe funksioneer nie – hulle werk nie. Hulle praat, sien, hoor, voel, loop nie – hulle keel maak nie eers ‘n geluid nie. Hulle kan nie vir ons vertel wat die waarheid is nie, hulle kan nie ons gebede hoor nie, hulle sien nie ons omstandighede raak nie, hulle snel ons nie te hulp nie – hulle kan nie vir ons lewe gee nie. Dan sê die psalm ’n belangrike ding: Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word (vers 8).

Laastens - Die afgod wat ek liefhet, het my nie lief nie. Kan julle aan nog redes dink hoekom God ons wil weerhou om afgode te aanbid?

Ek sluit af: Hoe moet ons reageer teenoor ander gelowe en kulture (veral in Suid-Afrika) waar afgode aanbid word soos in die vorm van voorvader geeste?

1 Johannes 5: 18-21

18. Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie. 19. Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is. 20. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. 21. Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af. Groete Ds. Ryno Hurn

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Commentaires


bottom of page