Pitkos 14
Vroeër jare was die doodstraf nog deel van die Suid-Afrikaanse strafregstelsel. Daar was ‘n aantal kategorieë oortredings waarvoor die doodstraf opgelê kon word. Ek het met angs al gedink hoe dit moes wees om in die sogenaamde dodesel te wag vir die voltrekking van die vonnis. Die angs, dalk die verwyt, dalk die oomblik van oorgegewenheid en wie weet watter ander emosies nog daarop sou kon inspeel. Dit was nie net die veroordeelde nie, maar dink aan die familie wat wag vir die dag van oordeel. Daar is dan nog ‘n aantal verhale wat oorvertel word oor die reaksie van veroordeeldes.
Die meeste gevangenis het gewoonlik nie lank voor die tyd geweet wanneer dit sou plaasvind nie. Gewoonlik het die bewaarders die slegte nuus kom oordra en gevra is daar sekere kosvoorkeure vir die laaste maaltyd. Dit is vir jou voorberei en jy kon die dominee, priester, pastoor van jou keuse laat kom om soort van die ‘”last rights” aan jou te bedien. Party het dit geweier en ander het dit angstig aangegryp. Nog steeds kry ek angstige handpalms as ek daaraan dink. Party van ons het dit al voor ‘n groot operasie of prosedure gevoel. Daardie gevoel van ek weet nie of ek dit gaan oorleef nie.
Toe Jesus Jerusalem op ‘n donkie inry vir die laaste keer moes Hy sekerlik die angs aangevoel het. Die skare skree: “Hosanna vir die Seun van Dawid” en gooi palmtakke en klere op die pad. Maar Hy het geweet dit is die laaste rit. Nou skree hulle “Hosanna” en môre skree dieselfde skare “Kruisig Hom”. Geen wonder dat Hy hulle stilmaak met die woorde: ”As julle vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is.” (Luk 19)
Meer angswekkend is Sy stryd in Getsemane toe die wat Hy die nodigste gehad het nie begryp het wat aan die gebeur was nie. Hy pleit voor die Vader dat die vonnisoplegging tog maar kan verby gaan, maar die dissipels slaap voort. Uiteindelik het die angs so ongegelooflik swaar geword dat Hy bloed gesweet het. Het niemand dit begryp nie, nie eers Sy getrouste volgelinge nie?
Die angswekkende Jesus Film het iets van die marteling en die geseling probeer uitbeeld. Die wreedheid van die kruisiging, die 40 houe, die spot, maar ek dink die emosionele spanning en angs was dieper as wat al die houe en spot was. En dan ontken hulle dat dit eintlik God was wat hulle gekruisig het. Vir my is die byna slottoneel die moeilikste. By die kruis staan sy ma en die lieflingsdissipel, Johannes en in die stof en bloed skryf Hy sy laaste testament. "Daar is jou moeder, versorg haar, en daar is jou kind, versorg hom!" Dit sê vir my dat die liefdesbande van die aarde tog maar in die hemel voortgesit gaan word. Die dissipels staan op ‘n afstand en kruip agter die malende skare weg. In hulle harte wonder hulle: “Is dit die einde van geloof?” “Is U die een of moet ons ‘n ander verwag?” As die storms om ons woed en ons dink God gaan nie meer help nie, is die wegkruip nogal handig. Die Petrusse en die ander wat so braaf was, twyfel, twyfel, en verdwyn.
Net Maria en vriendin Maria Magdalena, (die een met die minder mooi verlede), hulle is tot sterwenstoe daar, braaf, seer, so seer dat hulle kele in die stof in ‘n knop getrek het en rou smart hulle harte vermurwe het. Weet ons regtig wat angs is, verstaan ons die mense om ons wat by die dokter se kantoor wag vir die doodsvonnis? Verstaan ons die rou seer van mense wie se kind of man of vrou gesterf het? Of het ons net gewoond geraak daaraan?
Hy het dit draaglik kom maak daar op Golgota se koppie.
Piet Marais 0832590023
Comments