top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 1 September 2020

Pitkos 26 Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB)

Artikel 33-35: Die kerk

Artikel 33 die sakramente Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en die heilige nagmaal van Jesus Christus. Rom. 4:11; Gen. 9:13; 17:10-11; Eks. 12; Kol. 2:11; 1 Kor. 5:7; Matt. 28:19; 26:26; Rom. 10:9; Kol. 1:11; 1 Pet. 3:20; 1 Kor. 10:2. Artikel 34 die heilige doop Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom. 10:4), deur sy bloed te stort '’n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matt. 28:19). Hy toon ons daarmee dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word, en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel deur die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en om in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament dit wat sigbaar is, maar ons Here gee wat deur die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egte sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke. Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle '’n lam te offer, wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol. 2:11). Matt. 28:19; 1 Kor. 6:11; Tit. 3:5; Heb. 9:14; 1 Joh. 1:7; (Op. 1:5); 1 Pet. 1:2; 2:24; 1 Joh. 5:16; Joh. 19:34; Matt. 3:11; 1 Kor. 3:7; Rom. 6:3; Ef. 5:26; Hand. 22:16; 1 Pet. 3:21; Gal. 3:27; 1 Kor. 12:13; Ef. 4:5; Heb. 6:1-2; Hand. 8:16; 2:38, 41; Matt. 19:14; 1 Kor. 7:14; Gen. 17:11; Kol. 2:11; Lev. 12:6. Artikel 35 die heilige nagmaal Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wonderbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal. Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir hulle '’n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en ontvang word. Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as 'n teken van sy bloed ingestel. Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna ons lewe in stand hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof - dit is die hand en mond van ons siel - die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser. Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Homself deel te laat hê nie. Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet, en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink. Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose mens ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee. Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor. 11:29). Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot 'n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng het, as ontheiliging daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het, en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het. Matt. 26:26; Mark. 14:17; Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24, 28; Joh. 3:6; 10:10; 5:25; 6:48, 51, 63; 1 Kor. 10:16, 27; Ef. 3:17; Joh. 6:35; Hand. 3:21; Mark. 16:14; Matt. 26:11; 1 Kor. 10:3-4; 11:29; Rom. 8:22; 2 Kor. 6:15; 1 Kor. 2:14; Hand. 2:42; 20:7.

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

5 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comments


bottom of page