top of page

Pitkos Vir Die Week 03 Junie 2020

Pitkos 17

Wat is die Heilige Gees?

Inleiding:

In die Pitkos van 19 Februarie 2020 was daar gekyk na die tema “Wat is die Vader?”. Die week daarop volgens is ’n ondersoek ingestel rakende “Wat is die Seun?”. Ek haal aan vanuit 19 Februarie se uitgawe: “Miskien moet ons begin deur te sê dat die rol van God as Vader, Seun en Heilige Gees nie losgemaak moet word van die belangrike feit dat ons een heilige God aanbid nie. Alhoewel ons met verskeie geleenthede na die Vader, Seun en Heilige Gees afsonderlik gaan kyk, bly hulle steeds ’n heilige Eenheid. Die oomblik as ons hulle heeltemal probeer skei, loop ons die gevaar om drie gode te aanbid, en nie meer een Lewende God nie!”

Ons het vir mekaar gesê dat ons nuut moet dink oor God die Vader. Daar was ook gesê dat ons selfs na God as die Moeder kan verwys. God die Seun is Koning, Priester en Profeet vanuit die geskenke wat die wyse mane vir Hom gegee het by geboorte:

Goud, want Hy is die Koning.

Wierook, want Hy is God en moet vereer en aanbid word.

Mirre, want Hy het gekom vir die sterflike mense sodat ons nooit meer hoef vas te kyk in die gebalsemde liggaam van dooies nie.

2

In hierdie week se Pitkos uitgawe gesels ons saam oor die tema: “Wat is die Heilige Gees?”. Ek is van mening dat die Gereformeerde tradisie hopeloos te min maak van die Heilige Gees en die funksionaliteit van God as Gees.

Wat is die Heilige Gees?

Handelinge 2:1-13 Nuwe Lewende vertaling

Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle 'n geluid soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was. Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit. Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Die geluid van die stormwind en die stemme het 'n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat! Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome – Jode sowel as proseliete, Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!” Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra. Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê.

Vanuit Handelinge kan ons aflei dat die Heilige Gees onder andere twee rolle vervul:

1. Hy is die gewer van gawes;

2. Die Heilige Gees laat ons getuig van die groot dinge wat God doen.

“Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag van God. Hy is saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy is ook aan my gegee sodat Hy my deur 'n ware geloof deel kan laat kry aan Christus en al sy weldade, my kan troos en ewig by my bly.” – Teoloog Chris van Wyk

Die Heilige Gees is ons Helper

Een van die wonderlikste beloftes in die Bybel is dat God in ons kom woon. Dat Hy ons liggaam sy tempel maak. Dat Hy van binne-af ons verlos en heilig, ons begelei en stuur.

Dit is die grootste voorreg wat ons het. Ons lees daarvan in Jesus se laaste gesprekke met sy dissipels net voordat Hy aan die kruis sou sterf. Die eerste gedeelte is in Johannes 14:15-26:

3

“15 As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. 16 En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. 17 Hy is die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog 'n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. 20 Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader en julle in My en Ek in julle. 21 Wie my opdragte het en dit gehoorsaam, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak ... 23As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

En dan gaan Jesus aan om die inwoning van die Gees nog meer spesifiek uit te spel:

“26 Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.”

Die Heilige Gees is ’n Helper

Die eerste aspek van die Gees se werk in hierdie gedeelte is dat Hy kom om ons te help. Die Heilige Gees is ’n Helper. Hy word met die Griekse woord paraklêtos beskryf. Dit is Iemand wat geroep is om bystand te verleen — ’n voorspraak, ’n pleitbesorger, ’n trooster, ’n helper, ’n bemoediger, ’n bemiddelaar.

Dit is die eerste waarheid wat ons van die Gees moet verstaan en van Hom kan verwag. Die Gees is vir ons gegee as ’n Helper. Dit is ’n aspek van die Gees waarop ons kan staatmaak. Sy hulp is ’n geskenk van God waarop ons kan reken. In enige situasie waar ons bystand nodig het. In konflik. In uitdagings. In hartseer. In moeilikheid.

Die Heilige Gees onderrig en herinner ons

Die tweede aspek van die Gees se werk is dat Hy ons in alles sal onderrig en ons aan alles sal herinner wat Jesus gesê het. Die Gees onderrig en herinner.

Waarin?

Dit hoor ons in die tweede gedeelte in hierdie gesprekke van Jesus, Johannes 16:8-13:

“8 En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: 9 “Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie; 10 van geregtigheid, omdat Ek na die Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; 11 van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld reeds geoordeel is. 12 “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. 13 Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei.”

4

Hierdie aspek van die Gees is van sleutel belang om te weet waarmee Hy ons help, waarin Hy ons onderrig en waaraan Hy ons herinner. Natuurlik help Hy ons met die uitdagings wat ons ervaar in ons persoonlike lewe. Natuurlik is Hy daar waar ons vertroosting nodig het.

Maar daar is ’n groter agenda ter sprake in die Gees se werk in ons. Die Gees lei ons in die volle waarheid, omdat Hy ons wil gebruik in hierdie wêreld om die wêreld te bedien met die waarheid.

Wat ons egter goed moet verstaan van hierdie waarheid is dat dit direk staan teenoor die waarheid van die wêreld, veral in drie dinge. Jesus sê: “Wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.” (Joh 16:8)

Die Gees gebruik ons om die wêreld te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Dit is immers die “Heilige” Gees wat in ons werk:

• Sonde verwys na die breuk wat daar tussen mense en God gekom het deurdat mense nie in God glo nie, leef in hierdie wêreld asof Hy nie bestaan nie, en sy wet oortree.

• Geregtigheid verwys na die boodskap van die Here Jesus wat met sy kruisdood versoening bewerk het vir alle sondaars wat hulle toevlug tot God neem. Hy bring ons in die regte verhouding met God deur die prys vir die sonde vir ons te betaal.

• Oordeel verwys na die feit dat daar ‘n dag van afrekening kom.

Wat is die Heilige Gees? – Die belydenisskrifte

Apostoliese Geloofsbelydenis 8

Ek glo in die Heilige Gees.

Geloofsbelydenis van Nicea 8

Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek.

Nederlandse Geloofsbelydenis 8, 11

GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE

Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die

5

Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.

1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16-17; Joh. 1:14; Mig. 5:1.

DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES

Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Gen 1:1; Heb. 1:3; 11:3; Joh. 1:3; Ps. 33:6; Jer 32:17; Mal. 2:10; Joh. 1:3; 16:26; Ps. 104; Amos 4:13; Joh. 14:16, 26.

Heidelbergse Kategismus 53

53 Vraag: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (a). Ten tweede is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, (c) my troos (d) en ewig by my bly (e).

(a) 1 Joh 5:7; Gen 1:2; Jes 48:16;1 Kor 3:16; 6:19; Hand 5:3, 4. (b) Gal 4:6; Matt 28:19, 20; 2 Kor 1:22 ; Ef 1:13. (c) Gal 3:14;1 Pet 1:2;1 Kor 6:17. (d) Joh 15:26; Hand 9:31. (e) Joh 14:16;1 Pet 4:14.

God se rykste seën

Ds. Ryno Hurn

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page