Pitkos 39
Watter soort Verlosser het jy nodig?
📷
Watter soort Verlosser het jy nodig? Op die oor af mag dit na ’n baie vreemde vraag klink – “Watteer soort Verlosser het jy nodig?” Die wortel van hierdie vraag het meer te doen met die identiteit van ons Verlosser, eerder as die behoefte van die een wat verlos word. Kom ons herbesin die vraag: wie is ons Verlosser?
Wanneer ons praat oor die identiteit van Christus dan praat ons oor die verskillende maniere hoe Jesus, Homself aan ons openbaar. Teologies word daar van Christologie gepraat – Christologie is die leer oor die Persoon en werk van Jesus na aanleiding van name, titels en voorstellings wat in die Nuwe Testament vir Hom gebruik is soos Wonderbare Raadsman, Vredevors, Koning, Slaaf (ook vreemd om ter selfde tyd aan Jesus te dink as Slaaf en Koning), Lewende Woord, Leeu, Messias, Emmanuel, die tweede Adam, die Alfa en Omega, Lam, regverdige mens en ware ewige God.
Volgende week se Pitkos is die geleentheid waar die menswees van Jesus in meer diepte bestudeer gaan word. Terug na hierdie week se vraag: Wie is ons Verlosser?
Al ooit gewonder hoekom Christus aan soveel titels gekoppel word? Daar word beweer dat Christus aan ongeveer 150 verskillende titels gekoppel is. Alles wat opsommend gesien kan word as verskyningsvorm van God self. Die rede hoekom Christus aan soveel verskillende titels gekoppel word, is omdat Hy so groot en majestueus is. Dit is onmoontlik om Christus volledig vas te vang in een naam of titel.
Met elke titel wat aan Jesus toegeëien word, word daar ook ’n opdrag aan Hom verbind. Die Messias sal die Dawidsryk herstel, maar anders as Dawid wat bekend was vir sy militêre optrede, sal die Messias vrede en voorspoed bring, en dit vir altyd. Paulus beskryf Jesus in Filippense 2 as ’n slaaf. Paulus fokus hier op Jesus se prysgawe van sy Goddelikheid en sy vernedering as mens tot met sy gehoorsaamheid in die kruisdood. Dr. Jonker skryf in sy boek getiteld “Christus, die Middelaar” dat Christus se verskillende benaminge impliseer dat Hy ’n ampsdraer is en elke benaming Christus tot ’n bepaalde opdrag salf.
Ek stem saam met Jonker dat elke benaming ’n bepaalde opdrag impliseer, maar ’n uitdaging wat ons in die gesig staar rakende wie Jesus werklik is, is juis die wye verskeidenheid uitbeeldings wat daar van Hom is: Paulus fokus baie op die kruis en opstanding van Christus. Markus beeld Jesus uit deur die kragtige dade tydens sy reis van Galilea tot Jerusalem. Matteus lê weer klem op Jesus as die vervulling van die Ou Testament en waar Lukas weer fokus op Jesus se reddingsdade, veral vir die randfigure van die samelewing soos die armes, siekes en vrouens van daardie tyd. In Johannes word Jesus geopenbaar as die Lig en Lewe van God. Buiten die openbaringe in die Woord is daar ook eindelose uitbeeldinge in teologie, kuns en literatuur.
Die bogenoemde uitdagings het egter ’n positiewe en negatiewe invloed in die manier hoe ons Christus se identiteit verstaan: in ’n positiewe lig verbreed dit ons siening en raamwerk van Christus, maar vanuit ’n negatiewe lig bied dit nie vir ons eenstemmigheid nie.
My vraag is: het ons eenstemmigheid nodig? Wat is jou oortuiging?
Mag jy hierdie week so bietjie meer gereeld jouself (en hopelik ook ander) afvra: Wie is Christus?
Groete Ds. Ryno
תגובות