top of page

Pitkos vir die week - 9 Mei 2019

Pitkos 18

Wie steel jou vreugde?

‘n Goeie vriend, wat ‘n terapeut is, vertel dat ‘n kliënt eendag in sy spreekkamer kom sit en desperaat vir ure vertel het van almal om hom wat sleg is en hom sleg behandel. Hy kla oor al die slegte gebeure in sy lewe, van al die ellendes wat hom al oorgekom het.  Hy vertel dat hy as terapeut naderhand so skuldig gevoel het, want met hom (my vriend) gaan dit eintlik goed en hy voel hy bring weer vreugde in mense se lewens. In die gesprek is daar nie hoop nie, alles getuig van wanhoop en nag en duisternis.

In desperaatheid skink hy toe maar vir hom tee.  Doelbewus gooi hy die koppie tot boordens toe vol sodat dit uitloop oor die piering.  Angstig maak die kliënt hom attent op die oorvol koppie. “Hou op jy mors op die tafel.”  Die terapeut sê toe: ”Maar dit is jou lewe, dit is vol van jouself.”  Die bruikbaarheid van ‘n koppie lê in die leegheid daarvan.

Baie mense se lewens is so vol van dinge wat verhoed dat hulle die lewe kan raaksien, dat hulle die vreugde in die lewe kan raaksien.  In Johannes word die verhaal vertel van die vrou wat Jesus by die waterput raakloop (Joh 4).  Haar lewe is vol van hartseer en slegte dinge. Sy is deur die Jode afgeskryf as mense van anderkant die spoor, want hulle bly in Samaria.  In haar gesprek met Jesus is sy aanvallend. “Wat wil julle Jode nog van my hê?” “Ek soek net water, mevrou” antwoord Jesus “maar ek sal vir jou water gee wat jou dors sal les, die dors om die seerkry van die lewe vir ewig te stil.  My water neem jou kwaad van die egskeiding en jou skynbare ewige tekortkominge op.  My water sal die skaafplekke laaf.  My water sal jou diep seerkry wat so lank jou besig gehou het, versadig.  My water sal jou help om die leegheid wat die kwaad en opstand in jou gebring het wegneem.  My water sal jou help om jouself te vind.”

Jy sal ontdek dat as jy ‘n leë koppie is, jy ander sal kan help wat worstel met vloedstrome van kwaad en teleurstelling.  Eers wanneer jy jouself ontledig het kan jy ander help. 

Dit is so dat ons die lewe ontdek wanneer ons leeg is.  Dit is altyd ander mense wat ons geluk steel.  Dit is my oorlede man wat my sleg behandel het. Dit is my familie se skuld dat ek in die slegte situasie is.  Hoekom laat jy toe dat ander mense jou geluk steel?  Hoekom laat jy die ou rou emosies toe om jou in die nag wakker te laat lê?  Die vraag is altyd, kan jy iets daaraan verander?

Dit is Jesus wat die Samaritaanse vrou leer om haar lewe te vul met genade, met vergifnis, met liefde.  Dit maak dat ons koppie leeg word, sodat ons kan ontvang en nie op ander mense alles uitstort nie.  Geloof is om leeg te maak.  Dit het Jesus ons aan die kruis geleer, dan is dit nie meer “my wil nie maar U wil.“ “Elkeen wat van die water drink sal  weer dors kry maar elkeen wat drink van die water wat Ek julle sal gee, sal in ewigheid nie weer dors kry nie.”

Die kuns van menswees is om leeg te kom sodat Jesus ons kan vul met Sy liefde en genade.  Dan kan ons dit maar op ander uitstort tot dit op die tafels en die vloere val.  Die wêreld het dors, maar hulle sal dit nie ontdek voordat hulle self leeg geword het nie.  Word leeg sodat jy opnuut gevul kan word.

Groete van huis tot huis.   

Piet Marais 0832590023

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page