top of page

Preek: Sondag 20 September 2020 – Dr Hendrik Barnard

Verwelkoming. Gebed. Skriflesing: Eseg 36:21,26,27. Woordverkondiging. My broer en suster, Gedurende Desember 1967 is daar in ons land groot opspraak verwek. Die eerste hartoorplantingsoperasie in die geskiedenis is hier uitgevoer. Die koerante en die tydskrifte het hierdie grootse mediese prestasie oor die wêreld bekend gemaak. Tot vandag word dit nog as ‘n unieke deurbraak in die mediese wêreld beskou. Maar geliefdes, baie eeue voor hierdie deurbraak het God al met sy volk oor ‘n hartoorplanting gesels. Wel in ‘n ander verband, maar tog nie minder opspraakwekkend nie. Wat die Here hiermee telkens bedoel het, was veel meer ingrypend as enige ander ondervinding wat ‘n mens ooit kan belewe. Die Here het vir sy volk gesê: “Ek sal julle ‘n nuwe hart gee.” Die ou hart moet uit julle lewe gehaal word. In die Bybel word daar baie oor die hart gepraat. In sommige gevalle word daarmee letterlik na die hart as ‘n liggaamsdeel verwys. Maar in ander gevalle word dit figuurlik gebruik, as ‘n verwysing na die mens se innerlike lewe. So word die hart dan verstaan as die setel van moed en durf, van vrees en kommer, van smart en pyn en van vreugde en blydskap. Ja, so word die hart dan ook gesien as die plek waar wysheid en dwaasheid sy oorsprong het. Die hoofkwartier waaruit die hele lewenspad van die mens vloei. As die Here dus vir sy volk ‘n nuwe hart wil gee, dui dit op ‘n algehele vernuwing van die mens sodat hulle Hom weer in liefde en gehoorsaamheid kan dien. Dit spreek vanself dat daar sekere vereistes is, waaraan voldoen moet word, voordat ‘n hartoorplanting gedoen kan word. Ten eerste moet die geneesheer baie seker maak, dat die pasiënt nie langer met sy ou hart sal kan lewe nie. Ten tweede is dit noodsaaklik dat daar ‘n geskikte skenker vir die pasiënt gevind moet word. En laastens het ‘n mens vir die groot operasie die beste hartspan nodig. In die Goddelike hartoorplanting wat die profeet Esegiël hier vir ons beskrywe, word daaraan al hierdie vereistes voldoen. Eerstens begin dit met die Goddelike diagnose: daar is ‘n siek hart. God ken sy volk en sien agter hulle ongehoorsaamheid raak, dat daar ‘n siek hart is. Daarmee lê Hy sy vinger op die kwaal van die volk, ‘n hartkwaal. Hy sien raak ‘n hart van klip. Hierdie hart is koud en dood. ‘n Hart wat nie meer daarin behae skep, om een met die Here een te wees nie. ‘n Hart wat hom nie meer verlustig in die weë van die Here nie. ‘n Hart waarin die liefde vir die Here net begin dood gaan het. Sou dit nie ook die diagnose wees, as God vandag ‘n uitspraak oor die mensdom moes gee nie. Wat lê ten grondslag van al die haat, wreedheid, onreg en leed wat ons as mens daagliks beleef nie? Kom dit nie maar alles, uit ‘n siek hart nie? Skuil daar nie maar ook agter al ons verkeerde gedagtes, woorde en dade ‘n hart wat siek is nie? Daarom staan daar duidelik in Esegiël 36 dat die toestand van Israel die Here “ter hart gegaan het”. God het sy volk se hartkwaal ter harte geneem. Die siek hart van sy volk, van die mensdom, van u en my, het en lê nogsteeds swaar op God se hart. Tweedens bied God die beste raad: ‘n Nuwe hart. Dit is God se raad aan die sondaarmens en dit is nie sonder rede nie. Want die mens verkeer maar altyd in die waan, dat hy homself kan genees. So was dit in die verlede en so is ook nogsteeds vandag. Daar is baie menslike oplossings, waarmee die mens homself van al sy kwale wil probeer genees. Inderdaad is dit soos Jesus Christus eenmaal gesê het, dat mense hulleself probeer wysmaak dat hulle nie ‘n geneesheer nodig het nie. Maar geliefdes, daar is net een antwoord. Dit is God se antwoord. Die mens moet van die ou hart ontslae raak en ‘n nuwe hart ontvang. Maar wie sou die skenker wees? Geen mens of engel sou hiervoor kwalifiseer nie. Daarom het God ook daarvoor voorsiening gemaak. In die volheid van die tyd het Hy sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur. Jesus Christus sou die skenker wees. Die Skenker van ‘n nuwe hart en ‘n nuwe lewe aan elkeen wat waarlik in Hom glo. Hierdie hemelse Skenker het ons vlees en bloed aangeneem. Hy het in alles aan ons gelyk geword, uitgesonder die sonde. God het vir alles beplan en gedoen sodat ons in Christus ‘n nuwe hart en ‘n nuwe lewe kon ontvang. Derdens voorsien God die beste hartspan: God Drie-enig. Telkens staan daar in die teksverband, dat hierdie operasie ‘n Goddelike taak is. Keer op keer sê die Here: “Ek” sal dit doen. Ek sal my grote Naam heilig, Ek sal hulle uit die nasies gaan haal, Ek sal skoon water op julle giet, Ek sal julle reinig, Ek sal julle ‘n nuwe hart gee. Dit alles is die handeling van God. God skenk dit in Christus en Hy skenk dit deur sy Heilige Gees. Daarom staan daar in Eseg 36:27 “En Ek sal my Gees in julle gee en sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” God Drie-enig doen hierdie operasie van vernuwing. Daarom is die sukses daarvan absoluut gewaarborg. En wanneer dit alles gedoen is, wat gebeur dan? Dan kan ons leef vanuit ‘n nuwe hart. In geloof kom woon Christus in ons hart en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, word in ons hart bewaar. Geliefdes vanoggend is die vraag: Het ek en u al hierdie operasie ondergaan? Onthou God alleen ken die toestand van ons hart. Ons kan dit nie van Hom weerhou nie. Hoe lyk ons harte in hierdie dae werklik vir Hom? Weet - die hemelse Geneesheer het vandag nog vir jou en my ‘n opening. Amen. Gebed. Afsluiting.

This email was sent to johan.rooyen@gmail.com why did I get this? unsubscribe from this list update subscription preferences NGValhalla · H/v Fergus en Botma Straat · VALHALLA · Pretoria, GP 0185 · South Africa


58 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page