top of page

PREEK 28 JUNIE 2020 - DS RYNO HURN

Kerkklok lui Aanvangslied:163 Soos ‘n wildsbok vs 1 Verwelkoming: Aankondigings: Reeks: Vreugdevol vry – die vyf Solas Verjaarsdae Gebed: Votum: Psalm 22

6 Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Seëngroet Lofliedere LB 450 Vader, Seun, Heilige Gees LB 205 Bring Lof aan die Vader Skriflesing: Genesis 22: 1-18

1 'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 2 God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” 3 Vroeg die volgende môre het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4 Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5 Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.” 6 Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7 sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?” Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” 8 Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10 Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11 roep die Engel van die Here uit die hemel na hom: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 12 Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.” 13 Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14 Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” 15 Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16-17 en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam Tema: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” Prediking: Dit is 'n ontstellende verhaal dié, die verhaal van Abraham en Isak op die berg Moria. Dit is een van die netelige tekste in die Bybel. ’n Teks wat baie versigtigheid vra, maar tog baie rof en uitdagend met my as leser omgaan. Dit is een van daardie tekste wat jou voorveronderstellings van God uitdaag. Wat jou laat wonder oor God. Wat jou laat wonder oor Abraham. Wat jou selfs laat wonder oor Isak. Dit is 'n gedeelte wat jy eintlik anders wil uitlê, sodat dit aanvaarbaar kan raak vir 'n moderne lewensgevoel. Baie van dié wat buite die christelike tradisie staan gebruik die teks as motivering dat God nie ’n liefdevolle God nie, maar ’n God van moord en wreedheid. ’n God wat wil hê dat ouers hul kinders moet opoffer. ’n Gierige God.

Daar is verskillende hoeke van waaruit ons hierdie teks kan lees, elk met verskillende temas waaroor ons lank stil kan by staan:

  • God

  • Abraham

  • Isak

Kom ons bekyk hierdie verhaal, kortliks, vanuit die hoek van God en Abraham en dan staan ons stil by Isak. Hoe lyk hierdie verhaal vanuit die oë van Isak en hoe help dit my tot my verhouding met God drie-enig? Hoek van God:

  1. God stel ons met tye op die proef. Hy toets ons geloof. Daar kom soms dinge oor ons pad soos geloofstree; siekte, bekommernis, dood, dinge wat onverwags gebeur of dalk buite beheer voel, wat ons geloof uitdaag!

  2. Hier is ook indirekte vrae wat God aan sy kinders rig:

  • Sal jy my gehoorsaam?

  • Sal jy jou kosbaarste besitting vir my offer?

  1. Hier is ook ’n tema van seën teenwoordig: God seën dié wat gehoorsaam is aan Hom.

  2. Laastens, is hier ook ’n sterk mening dat die teks Christologies gelees kan word: Abraham wat vir Isak offer is die is ’n profesie van God wat sy Seun gaan offer, deur die Lam wat voorsien is.

Hoek van Abraham:

  1. God wat ’n opdrag aan Abraham gee en hy is daaraan gehoorsaam.

  2. Alhoewel die opdrag nie maklik vir Abraham kon wees om te hoor en uit te voer nie, het hy steeds op God bly vertrou. Dit rig die baie belangrike vraag aan my as leser: Vertrou ek vir God?

  3. Derdens, Abraham was bereid om vir Isak te offer. Weereens los dit hierdie vraag by ons: Is ek bereid om my kosbaarste besitting vir God te gee?

Ons moet onthou dat vir Abraham was Isak nie net sy seun nie, nie net sy vlees en bloed nie, maar was Isak, Abraham se lewende hartsbegeerte, sy familiereg, sy familie naam, sy wese. Abraham was bereid om dit alles te offer. Hierdie spesifieke hoek wys vir ons hoe om reageer wanneer God ons geloof tot die uiterste toe beproef en uitdaag! Abraham is nie verniet die vader van ons geloof nie! Kom ons staan vanoggend net vir ’n oomblik langer stil by die hoek van Isak. Wanneer ons hierdie verhaal vanuit hierdie hoek lees is hier ’n klomp dinge wat nie vir ons sin maak nie. Dit wil voorkom of Isak ’n passiewe persoon was wat maar net al te gewillig was om vasgebind te word deur sy pa en op ’n altaar geplaas word. Ons lees nie iets van ’n geveg tussen pa en seun nie, ook nie ’n seun wat op een of ander manier sy pa probeer oorreed om nie hom te offer nie. Ons sal dink dit is die meer logiese optrede van ’n persoon wat binnekort vermoor gaan word. Nie te min, die optrede van Isak wil vir ons drie baie belangrike dinge kom leer.

  1. Vertrou ek dié wat oor my is soos my ouers, die leiers en vir God? Alhoewel Isak baie maklik sy pa kon uitoorlê, was hy gehoorsaam en het hy sy pa vertrou in hierdie hele proses. Isak het nie net sy aardse vader vertrou nie, maar ook sy hemelse Vader. Dit is een ding om bereid te wees om iets te offer wat na aan jou is, soos in die geval van Abraham, maar dit is iets heeltemal anders wanneer die iets, jy is. Dit vat ware geloof en vertroue om te weet dat dit waardeur ek tans besig is om te gaan nie buite die beheer van my hemelse Vader is nie. Al word ek vasgebind, al word ek op ’n altaar neergeplaas, al is daar nie ’n uitweg insig nie, weet ek dat ek okay gaan wees, want God is met my. Hy is ’n God van liefde en genade en barmhartigheid, al wil my omstandighede en die wêreld vir my iets anders vertel.

  2. Tweedens, ek dink nie Isak se optrede sou enigsins so gewees het as dit nie vir Abraham en hulle Huisgeloof was nie. Abraham het sy kinders so grootgemaak dat hulle ’n sterk geloof in God gehad het. “6 Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop,7 sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?” Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” 8 Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Daarna het hulle twee saam verder gestap.”

Hierdie absolute vertroue deur Isak in God se voorsienigheid en sy pa se geloofkom wys vir ons die onskatbare waarde van huisgodsdiens en mense in jou lewe wat jou lei, versterk en bemoedig in die geloof. Isak het ook in God se belofte van voorsiening glo deur sy pa wat dit vir hom vertel het.

  1. Ek sluit af met die laaste: hierdie verhaal kom wys vir ons dat Isak bereid was om Homself aan die Here te offer? Is jy?

Amen


Gebed:

Vrygee:


Seën:

Mag die Here jou seën en jou beskerm.

Mag die Here Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.

Mag die Here Sy gesig na jou toe lig en aan jou vrede gee.

En mag jy vir ander tot seën wees. Amen


Slotlied:

(DVD4 002 Unleaded)

471 Soek allereers die koninkryk van God


Seën groete Ds Ryno Hurn

14 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page