top of page

Preek: 21Junie 2020 - Dr Hendrik Barnard

Preek: 21Junie 2020 - Dr Hendrik Barnard Verwelkoming. Gebed. Skriflesing: Jeasaja 40:1-11 Tema: Vir God is alles moontlik. Geliefdes in die Here Jesus Christus, in 1936 was die wêreld vir tien dae lank aangegryp deur die drama wat hom in ‘n ou goudmyn in die dorpie Halifax afgespeel het. Drie personeellede van die myn, was besig met opmetings in ‘n uitgediende skag, toe hulle onverwags deur stukke rotse oorval is. Hulle het vreesbevange in ‘n hoek van die skag geskuil en mekaar styf vasgehou. Uiteindelik het die rotse opgehou val en die stof het gaan lê. Hulle het toe opgestaan en vining na die hoofskag waar hulle ingekom het beweeg. Maar hier is hulle gestuit. Die ingang was toe. Rotse en mynrommel het die ingang toegeval. Hulle was heeltemal van die buitewêreld afgesny. Hulle kon skreeu, maar niemand sou hulle hoor nie. Hulle was letterlik lewend begrawe, want dit sou nie lank neem voor die suurstof in die beperkte ruimte sou opraak nie. Hulle was in ‘n hulpelose situasie vasgevang. My broer en suster, by hierdie hulpelose gebeure sluit die Babiloniese ballingskap waarin Israel hom bevind het, goed aan. Dit was die ergste denkbare krisis wat oor die volk se pad gekom het. Dit sou die einde van die volk se voortbestaan wees. Nie alleen is hulle weggevoer uit hulle bekende grondgebied nie, maar hulle is ook aan ‘n wrede koning en vreemde tradisies oorgelewer. Dit het vir hulle voorgekom asof die gode van Babel sterker as Jahwe, die God van Israel was. Meer nog, dit het vir hulle gevoel asof God hulle van sy lig en lewe afgesny het. Die ergste van die krisis was, dat die volk dit oor hulleself gebring het. Dit was hulle eie skuld dat hulle in hierdie put beland het. Die meeste van ons ken hierdie gevoel baie goed. Erens in jou lewe was jy ook al in so ‘n put. Daar kan verskeie redes daarvoor wees. Ons dink aan die magte van die ekonomie, die politiek, konflik of siekte wat jou gevange hou. Al jou mooi drome oor môre verval in onsekerheid en die uitgang na die Lig word so versper. Al wat jy beleef is dat duisende tonne rommel jou teen die grond vasdruk. Jy begin voel dat God jou verlaat het; jou alleen agter gelaat het. Kan dit met jou en my gebeur? Nee! God sal jou nooit verlaat nie! Dit word vir ons baie mooi in Jesaja 40 bevestig. Toe die volk opnuut tot God die Almagtige om hulp geroep het, neem Hy die inisiatief om sy volk van hulp te wees. Hierdie inisiatief begin in die verbondshart van God. Hy neem die skuldbelydenis van sy volk ter harte en in sy geregtigheid vergewe Hy hulle. Die tyd van genade het aangebreek. Die volk word uit die donker put gered. Die ontmoontlike word moontlik. Soos ‘n weerligstraal uit die hemel, weerklink dit in die ore van sy volk: Die uitkoms is hier! Julle skuld is vergewe. Die engele sal vir julle ‘n pad uit julle ellende oopbreek. Julle het gedink God het julle vergeet. Dink weer. Net God is magtig en vir Hom is alles moontlik. Dit laat ‘n mens dink aan die ou man wat die see vir die eerste keer gesien het. Dit was hoogwater. Toevallig kom daar ‘n visserman met ‘n emmer seewater aangestap. Die ou man vra toe vir hom: “Meneer, verkoop julle hierdie seewater? Ek het gehoor dis goed vir allerhande kwale. Hoeveel kos so emmer water?” Die visserman speel toe saam en sê dit kos R3 vir ‘n emmer. Die ou man het betaal en is tevrede met sy seewater daar weg. Die volgende dag was hy weer terug om nog water te koop. Die visserman was toevallig weer daar en hierdie keer was dit laagwater. Die ou man het die see so gekyk en vol bewondering vir die visserman gesê: ”Meneer, dit lyk vir my julle doen baie goeie besigheid hier!” Kan ‘n mens die see so leeg skep? Kan jy God se krag uitput? Nee, God is ‘n see van genade. Sy liefde strek uit tot die mens in die diepste put. Israel moes ‘n tyd wag voor hulle uit die put gehaal is, maar hulle is: “Die volk wat in die donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien; oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn. Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes 9:1). My broer en suster, dit mag vir ons voel of ons omstandighede nog niks verander het nie. Ek tas nog in die donker rond. Glo en weet die besluit oor jou en my lewe is alreeds in die hemel geneem. Met Jesus se koms na hierdie aarde het sy lig deurgebreek, om op jou en my te skyn. Die Here het jou en my nie verlaat nie. Hy is hier. Die drie personeel lede wat in die mynskag vasgevang was, is na tien dae vanuit die rommel verlos. Hoe? Een van die reddingswerkers het geweier om moed op te gee. Hy het met sy boor, dieper en dieper aanhou boor, totdat hy teen alle verwagtinge ‘n syskag raak geboor het. Vanuit hierdie syskag kon die vasgevalle mans toe gered word. Kom ons volhard in ons trou aan die Here, soos hierdie reddingswerker volhard het. Glo en weet, die onmoontlike gaan moontlik word, want vir God is niks ontmoontlik nie. Amen. Gebed.

5 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page